Die onlangse wêreldwye finansiële krisis het daartoe gelei dat mense deesdae meer noukeuring op hulle state let. Toe dit maklik was om krediet te kry, het baie mense onverantwoordelik geword oor hoe hulle dit gebruik. Hulle het nie gespaar vir iets wat hulle wou aankoop nie, maar geld geleen. Dit was nie ’n krisis om skuld te hê nie. Vandag is dit anders. Om goeie krediet te hê, is belangrik. Toe ’n besigheid geadverteer het dat hulle persone wat skuld het sou help, het ’n nuusleser gewaarsku: “Om krediet te herstel is nie iets wat jy kan koop nie. Jy moet daarvoor werk.” Dieselfde beginsel geld vir die geloofwaardigheid van my en jou lewe. Ons kan dit nie koop nie, ons moet daarvoor werk. Ons mag miskien geloofwaardigheid ’n tyd lank “leen” deur met geloofwaardige mense om te gaan, maar vroeër of later sal ons ons eie geloofwaardigheid nodig hê. Om geloofwaardig te wees beteken dat ons in staat moet wees om die vertroue van ander te wen. Waarom dit vir Christene belangrik is, is omdat ons lewenswyse God se reputasie kan beïnvloed (1 Petrus 2:12). Wanneer ons onsself Christene noem, word die Here se reputasie aan ons s’n verbind. Indien mense redes het om ons nie te vertrou nie, mag hulle die Here ook nie vertrou nie. Die manier om geloofwaardigheid te verkry, is om eerbaar te lewe. Dan sal ander jou glo en God verheerlik.