As kind was dit een van my ideale om ’n swart gordel in karate te verower. Verskeie jare gelede het ek begin oefen om daardie doel te bereik. Maar toe ek nog twee gordels nodig gehad het voordat ek die swarte kon kry, het ek opgehou. Daar was veral twee redes – my afrigter het van styl verander en ek het so besig geword met ander dinge dat daar geen tyd vir karate was nie. Vandag het ek byna daagliks ’n worsteling met die gedagte dat God wil hê ek moet ’n oorwinnaar, of liewer ’n voleinder wees, op alle terreine van die lewe, maar veral in my dienswerk vir Hom en sy Koninkryk. Toe Paulus aan die einde van sy lewe gekom het, het hy geen verwyte en onsekerhede oor onvoltooide take ten opsigte van sy bediening gehad nie. In sy finale afskeidsrede in 2 Timoteus 4:7 gebruik hy veelseggende beelde om die voltooiing van sy opdrag te beskrywe. Hy beskrywe sy lewe en bediening as ’n wedloop wat hy afgelê het. Hy sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou”. Hy sê dit was ’n goeie stryd wat hy gestry het en hy verklaar dat dit enkel en alleen deur God se genade is dat hy dit kon doen. Ja, hy het end-uit volgehou en nou wag die oorwinnaarskroon op hom (2 Tim. 4:8). As volgelinge van ons Here Jesus word ons almal, ook ek en jy, opgeroep om voleinders in sy wonderlike diens te wees. Is ons dit?