Alyssa is ses jaar oud en begin nou net leer lees. Sy het dikwels gesien hoe haar ouers en grootouers soggens vroeg uit die Bybel lees. Een oggend het sy vroeg wakker geword, voor enigiemand anders. Toe Ouma opstaan, vind sy Alyssa op die rusbank in die sitkamer met haar Bybel en ’n geestelike dagboekie op haar skoot. Sy wou die voorbeeld van haar ouers en grootouers navolg en vroeg in die oggend tyd met die Here deurbring. Timoteus, die jong pastoor, het groot verantwoordelikhede in die gemeente van Efese op sy skouers gedra. Hy moes gelowiges oplei, eredienste waarneem en waak teen valse lering. Paulus, die apostel wat ouer was en meer ondervinding gehad het, het hom leiding gegee oor hoe hy die gemeente moes lei, maar ook hoe hy sy persoonlike lewe moes inrig. Hy sê: “Wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid” (1 Timoteus 4:12). Paulus het Timoteus uitgedaag en gesê: “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin” (1 Tim. 4:16). Indien die jongman op sy eie geestelike lewe sou let en sorgdra dat hy ’n suiwer leer verkondig, kon hy ’n positiewe voorbeeld vir die hele gemeente wees. Ons het almal mense wat ons dophou en na ons optrede kyk. Selfs klein Alyssa het nog jonger maats wat haar dophou. Kom ons rig ons lewe so in sodat diegene wat ons dophou ander sal help om Jesus te volg.