’n Seun met serebrale verlamming, kon nie praat of kommunikeer nie. Sy ma, Chantal Bryan, het egter nie moed opgegee nie en toe hy tien was, het sy reggekry om met hom te kommunikeer deur sy oë en ’n letterbord. Na hierdie deurbraak het sy gesê: “Hy was oopgesluit en ons kon hom enigiets vra.” Nou kan Jonathan lees en skryf, selfs gedigte, deur met sy oë te kommunikeer. Toe hulle hom vra hoe dit voel om met sy familie en vriende te “praat”, het hy gesê: “Dis wonderlik om vir hulle te kan sê ek is lief vir hulle.”

Jonathan se storie is uiters roerend en laat my besin hoe God ons van die tronk van sonde oopsluit. Soos die apostel Paulus aan die Christene in Kolosse skryf, voorheen was ons “ver van God af” (Kolossense 1:21), ons bose optrede maak ons Sy vyand, maar deur Christus se sterwe aan die kruis, word ons nou “heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom” (vs. 22). Ons mag nou “tot eer van die Here lewe” terwyl ons vrug dra en groei in die kennis van God en versterk word deur Sy krag (vv. 10–11).

Ons kan ons oopgesluite stemme gebruik om God te eer en Sy goeie nuus te deel dat ons nie langer gebonde is aan ’n lewe van sonde nie. Terwyl ons volhou in ons geloof, kan ons styf vashou aan ons hoop in Christus.