Toe ek ’n seuntjie in ’n dorpie was, het iets omtrent hoenders my bekoor. As ek een kon vang, het ek dit ’n rukkie vasgehou en dan saggies vrygelaat. Omdat dit gedink het ek hou dit nog vas, het die hoender bly lê; hoewel dit vry was om te gaan, het dit steeds vasgevang gevoel.

Wanneer ons ons geloof in Jesus plaas, verlos Hy ons goedgunstiglik van ons sonde en die houvas wat Satan oor ons het. Omdat dit egter tyd neem om ons sondige gewoontes en optrede te verander, kan Satan ons steeds gevange laat voel. Maar God se Gees het ons vrygestel; Hy maak ons nie slawe nie. Paulus het aan die Romeine gesê, “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Romeine 8:1–2).

Deur Bybellees, gebed en die krag van die Heilige Gees, werk God in ons om ons te reinig en ons te help om vir Hom te lewe. Die Bybel moedig ons aan om met vertroue saam met Jesus te stap, sonder om te voel dat ons nie vry is nie.

Jesus het gesê, “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees” (Johannes 8:36). Mag die vryheid wat ons in Christus het ons aanspoor om Hom lief te hê en te dien.