Vir baie jare het ek die skrywes van die Britse outeur G,K. G. K. Chesterton geniet. Sy humor en insig het my dikwels laat giggel en dan weer stil raak vir meer ernstige oorpeinsing. Byvoorbeeld het hy geskryf: “Jy sê ’n gebed voor ete. Dis reg. Maar ek sê ’n gebed voor die opvoering en opera, en gebedvoor die konsert en pantomime, en dankie voor ek skets, verf, swem, skerm, boks, loop, speel, dans; en ’n gebed voor ek my pen in ink doop.”

Dit is goed om God te dank voor elke maaltyd, maar dit behoort nie daar te stop nie. Die apostel Paulus het elke aktiwiteit, elke poging gesien as iets waarvoor ons God moet dank en dat ons dit tot Sy eer moet doen. “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kolossense 3:17). Ontspanning, beroep, en opvoeding is alles kanale waardeur ons God kan eer en ons dankbaarheid aan Hom kan betuig.

Paulus sê aan die gelowiges in Kolosse: “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar” (vs. 15).

Die beste plek om ’n dankgebed te doen, is enige plek en enige tyd wat ons dank aan God wil bring en Hom eer.