Die uitroep het van my dogtertjie gekom toe sy een môre aantrek. Ek het nie geweet wat sy bedoel nie. Sy het na haar t-hemp gewys. Oor die bors was die woord “Skatlik.” Ek het haar ’n lekker druk gegee, en sy het van pure plesier geglimlag. “Jy is skatlik!” het ek gesê. Haar glimlag was breër, as dit moontlik was, en sy het weggedans, en die woord oor en oor gesê.

Ek is kwalik ’n perfekte pa, maar daardie oomblik was perfek. In daardie spontane, pragtige interaksie, het ek in my dogtertjie se gesig gesien wat dit is om onvoorwaardelike liefde te ontvang: dit was suiwer genot. Sy het geweet die woord op haar t-hemp was net hoe haar pa oor haar gevoel het.

Hoeveel van ons weet in ons harte dat ons ’n Vader het wat ons onbeperk liefhet? Somtyds sukkel ons met hierdie waarheid. Die Israeliete het. Hulle het gewonder of hulle beproewings beteken het dat God hulle nie meer liefhet nie. Maar in Jeremia 31:3, herinner die profeet hulle wat God gesê het: “Ek het jou nog altyd liefgehad.” Ons verlang ook na so ’n onvoorwaardelike liefde. Maar die wonde, teleurstellings en foute wat ons ervaar, kan ons alles behalwe geliefd laat voel. Maar God maak Sy arms oop – die arms van ’n perfekte Vader – en nooi ons om Sy liefde te beleef en daarin te rus.