Gedurende ’n vakansie sou ons ’n rustige vaart op ’n vlot op die Chattahoochee-Rivier meemaak. Geklee in sandale, ’n sonrok en ’n wyerandhoed, het ek gekreun toe ons ontdek – teenstrydig met die advertensie – dat daar ligte stroomversnellings sou wees. Dankbaar vir my reddingsbaadjie, het ek gegil en die handvatsel vasgegryp tot ons die oewer stroomaf bereik het. Ek het uitgeklim, die water uit my handsak gegooi en my man het gehelp om die water uit my rok te wring. Ons het lekker gelag, al het die rit nie uitgedraai soos geadverteer nie.

Anders as die brosjure, wat duidelik ’n belangrike deel van die rit uitgelaat het, het Jesus Sy dissipels gewaarsku dat ruwe waters voorlê. Hy het gesê dat hulle vervolg en gemartel gaan word, en dat Hy gaan sterf en weer opstaan. Hy het Sy betroubaarheid beklemtoon, en bevestig dat Hy hulle na onteenseglike oorwinning en ewige hoop sal lei (Johannes 16:16–33).

Hoewel dit lekker sal wees as die lewe makliker is as ons Jesus volg, het Hy dit duidelik gestel dat Sy dissipels moeilikhede sal hê, maar Hy het belowe dat Hy by ons sal wees. Beproewings sal nie God se plan vir ons definieer, beperk of vernietig nie, want Jesus se opstanding het ons reeds na ewige oorwinning gebring.