My katjie, Velvet, moes vinnig by die deur uit laat spaander toe my moeder haar by die vars tuisgebakte brood op die kombuistafel betrap. Ure later en na vele gesoek het ek haar uiteindelik bo in ’n populierboom gevind.

Velvet het, in haar haas om voor my moeder se frustrasie uit te vlug, ’n meer netelige posisie gekies. Is dit nie moontlik dat ons soms iets soortgelyks doen nie. Ons hardloop weg vir ons foute net om onsself in groter gevaar te bevind. Maar selfs dan kom God tot ons redding.

Die profeet Jona het in ongehoorsaamheid weggevlug van God se opdrag om in Nineve te gaan preek en is toe deur ’n groot vis ingesluk. Binne in die vis het hy tot God gebid: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor” (Jona 2:1-2). God het Jona se gebed verhoor. “Toe beveel God die vis en hy het Jona op die vasteland uitgespoeg” (vs. 10). God gee vir Jona nog ’n kans (3:1).

Ons het naderhand moed opgegee om Velvet te probeer oorreed om uit die boom te kom en het die hulp van die brandweer ingeroep. Met die langste leer ten volle uitgestoot het ’n vriendelike man hoog opgeklim, die katjie van die tak afgetel en veilig in my arms besorg.

Ongeag die omvang van ons omstandighede – God sal ons altyd in Sy groot liefde te hulp snel om ons te red uit ons ongehoorsaamheid.