’n Lid van ons Bybelstudiegroep het voorgestel dat ons ons eie psalms skryf. Na ’n bietjie aanmoediging het elkeen ’n roerende digterlike lied geskryf oor God se werk in hulle lewe. Vanuit beproewinge, beskerming, voorsiening en selfs pyn en trane, het daar boodskappe gevloei wat aan ons bekorende temas verskaf het. Soos Psalm 136, het elke psalm vertel dat daar “geen einde aan God se liefde is nie.”

Ons kan almal van God se liefde getuig – of ons dit skryf, sing of vertel. Vir sommige was dit ’n dramatiese of intense ondervinding – soos die skrywer van Psalm 136 wat onthou hoedat God Sy mense uit gevangenisskap gelei en Sy vyande verslaan het (vv. 10-15). Ander kan eenvoudig net God se wonderlike skepping beskryf. “Hy het die hemel met soveel insig gemaak … die aarde op die waters gevestig … die groot hemelligte gemaak … die son om te heers oor die dag … die maan en die sterre om te heers oor die nag” (vv. 5-9).

Herinneringe aan wie God is en wat Hy gedoen het, lei tot lofprysing en danksegging wat Hom verheerlik. Dan kan ons “onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere” (Ef. 5:19) sing oor die goedheid van die Here aan wie se liefde daar geen einde is nie. Omskep gerus jou ondervinding van God se liefde in ’n lofsang en geniet die oorvloed van Sy eindelose goedheid.