“Dit is kanker.” Ek wou sterk wees toe my Ma dit vir my sê. Tog het ek in trane uitgebars. Dit is woorde wat jy nooit wil hoor nie. Dit was my Ma se derde rondte met kanker. Nou moes sy ook hoor dat ’n kwaadaardige gewas onder haar arm verskyn het.

Alhoewel my Ma die een was met die slegte nuus, was ek die een wat troos nodig gehad het. Haar reaksie was vir my verrassend. “Ek weet God is altyd goed vir my. Hy is altyd getrou.” Selfs al het ’n moeilike operasrie en bestraling op haar gewag, was sy verseker van God se nabyheid en trou.

Net soos Job. Hy het sy kinders, sy rykdom en sy gesondheid verloor. Tog lees ons in Job 1:20 dat hy op die grond gaan lê en God aanbid het. Toe sy vrou voorstel dat hy God vervloek, was sy woorde; “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Wat ’n radikale eerste reaksie. Alhoewel Job later gekla het, het hy tog uiteindelik getuig dat God nooit verander het nie. Job het geweet dat God steeds by hom is en dat Hy vir hom omgee.

Vir die meeste van ons is lofprysing nie ’n eerste reaksie in moeilike tye nie. Die pyn van ons omstandighede is soms so oorweldigend dat ons in vrees of woede uitbars. Tog het my Ma se reaksie my daaraan herinner dat God altyd teenwoordig is, altyd goed is. Hy sal ons deur moeilike tye help.