Ek is hardhorend. “Doof in die een oor en kan nie met die ander oor hoor nie”, soos my pa altyd gesê het. Daarom dra ek ’n gehoorstuk. Die toestelletjie werk oor die algemeen baie goed. Bevind ek my egter in ’n omgewing met baie steurnis en geraas is dit ’n heel ander storie. Dan vang my gehoorstuk elke geluid op en kan ek gladnie die persoon wat voor my staan, hoor nie.

So gaan dit ook in ons kultuur. ’n Warboel van geluide kan God se sagte stem uitdoof. “Waar sal die Woord gehoor word, waar sal die Woord weerklink?” vra die digter T.S. Elliot. “Nie hier nie, hier is nie genoeg stilte nie.”

Gelukkig beskik my gehoorstuk oor ’n verstelling wat geraas en ongewenste omgewingsgeluide uitsluit. Dit stel my dus in staat om net daardie stemme te hoor wat ek wil hoor. Netso kan ons ook, ondanks die stemme en geraas om ons, God se fluistering hoor as ons net stilword en luister (1 Kon. 19:11-12).

Hy praat elke dag met ons as Hy ons in ons rusteloosheid en hunkering oproep. Hy roep na ons in ons diepste smart en in die onvolledigheid en ontoereikenheid van ons grootste vreugdes.

Maar Hy praat veral met ons deur Sy woord (1 Tes. 2:13). As jy Sy Woord optel en dit lees sal jy ook Sy stem hoor. Hy het jou meer lief as wat jy ooit sal besef en Hy wil graag hê jy moet hoor wat Hy vir jou wil sê.