Een aand, baie jare gelede, het ons tweejarige dogtertjie ons met ’n vraag verras. Ons het pas die aandgebed afgesluit toe sy vra: “Mamma, waar is Jesus?”

Luann het geantwoord: “Jesus is in die hemel en Hy is oral, ook hier by ons. En as jy Hom uitnooi, kan Hy ook in jou hart wees.”

“Ek wil Jesus in my hart hê.”

“Jy kan Hom een van die dae vra.”

“Ek wil Hom nou vra om in my hart te kom.”

Ons dogtertjie bid toe: “Jesus, kom asseblief in my hart en bly by my.” En so het haar geloofspad met Hom begin.

Toe die dissipels vir Jesus vra wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is, het Hy ’n kindjie nader geroep en tussen hulle laat staan (Matteus 18:1-2). Hy sê toe: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie … En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (vv. 2-3, 5).

As ons deur die oë van Jesus na ’n vertrouende kindjie kyk, sien ons ’n voorbeeld vir ons geloof. Ons moet ook almal verwelkom wat hul harte vir Hom oopmaak: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle” (19:14), maan Jesus.