My man was by die werk toe ek die nuus kry dat my ma met kanker gediagnoseer is. Ek het ’n boodskap vir hom gelaat en vriende en familie gebel. Niemand was beskikbaar nie. Met my gesig in my bewende hande het ek gesnik: “Here, help my!” Die gerusstelling dat Hy by my was, het my gedurende daardie eerste oomblikke van uiterste alleenheid vertroos.

Ek het die Here gedank toe my man tuiskom en vriende en familie hul ondersteuning aanbied. Tog het die kalmerende bewuswording van God se teenwoordigheid wat ek tydens die eerste paar uur van eensame droefheid ervaar het, bevestig dat God graag beskikbaar en getrou is waar en wanneer ek hulp benodig.

In Psalm 46 verklaar die psalmis dat God ons toevlug, sterkte en steun is (vs. 2). Te midde van chaos of wanneer dit lyk asof alles wat geanker was, ineentuimel, hoef ons nie te vrees nie (vv. 3-4). God wankel nie (vv. 5-8). Sy krag is sigbaar en effektief (vv. 9-10). Ons ewige Bewaarder gee ons vertroue in Sy onveranderlike karakter (vs. 11). Die Here, ons beskutting, is by ons (vs. 12).

God het Sy kinders geskep om mekaar biddend te ondersteun en te bemoedig. Hy bevestig ook dat Hy altyd bekwaam en beskikbaar is. Wanneer ons bid, kan ons Hom vertrou om getrou te bly aan Sy belofte van voorsiening. Sy liefde en Sy persoonlike teenwoordigheid vertroos ons.