Ek is vinnig besig om ’n nuwe seisoen te betree – die “winter” van die ouderdom – maar, ek is nog nie daar nie. Al galop die jare verby en al kry ek soms lus om hulle te stuit, ondervind ek blydskap wat my dra. Elke dag is ’n nuwe dag uit die Here se hand. Ek kan dus saam met die psalmis sê: “Dit is goed om die Here te loof … om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou” (Psalm 92:2-3).

Hoewel ek ook lewenstryd ervaar en ander se pyn en probleme my dikwels oorweldig, stel God my in staat om saam met die psalmis te sing en te “juig oor wat U gedoen het” (vs. 5). Ek juig van blydskap oor Sy seën: my gesin, vriende en ’n werk wat bevrediging bied. Ek juig omdat Jesus my so liefhet dat Hy vir ons sondes gesterf het. Ek is vol vreugde omdat Hy ons Sy Gees gegee het – die Bron van ware blydskap (Romeine 15:13). Omdat gelowiges die Here ken, kan hulle so “sterk wees soos palmbome … Selfs in hul ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees” (vv. 13-14).

Ja, selfs in hul ouderdom sal hulle nog vrug dra. Watter soort vrug? Ons kan – ongeag ons omstandighede of ons lewenseisoen – steeds deur ons lewenswandel en ons woorde getuies wees van Sy liefde. Om die Here te ken, vir Hom te lewe én vir ander van Hom te vertel, spel b-l-y-d-s-k-a-p!