Wat doen jy as daar ’n berg in jou pad staan? Toe Dashrath Manjhi se vrou sterf omdat hy haar nie betyds by die hospitaal kon kry nie, het hy die byna onmoontlike aangepak. Hy het 22 jaar lank ’n massiewe gat in die berg uitgekap sodat ander dorpenaars betyds by die hospitaal kon kom om die nodige mediese sorg te ontvang. Die regering van Indië het hom voor sy dood vereer vir sy heldedaad.

Vir Serubbabel, een van die leiers van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, moes die herbou van die tempel na ’n saak van onmoontlikheid gelyk het. Die mense was ontmoedig, hul vyande het hul getreiter, die nodige hulpbronne en ’n groot weermag het ontbreek. God het egter vir Sagaria gestuur om Serubbabel daaraan te herinner dat dit meer as ’n kragtige militêre mag, individuele krag of mensgemaakte hulpbronne sou verg om te slaag: die krag van Sy Gees (Sag. 4:6). Hiérvan verseker, het Serubbabel op God vertrou om elke onoorkomelike probleem wat in die pad van die herbou van die tempel en die herstel van die gemeenskap sou staan, gelyk te maak (vs. 7).

En as daar ’n “berg” voor ons staan? Ons het twee opsies: ons kan op ons eie krag staatmaak, of op die krag van die Gees vertrou. Kies ons die Gees, sal Hy óf ons berg gelyk maak, óf ons die krag en uithouvermoë gee om dit uit te klim.