’n Globale rekenaarnetwerk wat foutief raak, kan wydverspreide vertraging van vlugte veroorsaak en duisende passasiers op lughawens gestrand laat. Tydens ’n winterstorm kan veelvuldige motorongelukke tot die sluiting van hoofweë lei. Iemand belowe om “dadelik” te antwoord, maar doen dit nie. Vertragings wek dikwels woede en frustrasie, maar ons het, as navolgers van Jesus, die voorreg om na Hom op te sien vir hulp.

Josef is een van die beste Bybelse voorbeelde van geduld. Sy jaloerse broers het hom as ’n slaaf aan handelaars verkoop, sy werkgewer se vrou het hom vals beskuldig en hy is tronk toe. “Terwyl Josef in die tronk was, was die Here by hom … ” (Gen. 39:20-21). Jare later, nadat Josef die farao se drome uitgelê het, is hy oor die hele Egipte aangestel (Gen. 41).

Die merkwaardigste vrug van sy geduld het na vore gekom toe sy broers tydens ’n hongersnood koring kom koop het. “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur … Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God” (45:4-5, 8).

Mag ons, te midde van elke soort vertraging en die tydsduur daarvan, soos Josef, op die Here vertrou en toeneem in geduld, perspektief en vrede.