Wil jy graag ’n dieper bewustheid van dankbaarheid ervaar? George Herbert, ’n sewentiende-eeuse Britse digter, moedig lesers in sy gedig: “Gratefulness,” daartoe aan: “U het my so baie gegee. Ek vra nog één ding: ’n dankbare hart.”

Herbert het ontdek wat nodig was om dankbaar te wees – slegs ’n bewustheid van die seëninge wat God reeds aan hom geskenk het.

Die Bybel verklaar Christus Jesus as die bron van alle seën: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” (Rom. 11:36). “Alle dinge” sluit die luukse sowel as die gewone, alledaagse gawes in ons lewe in. Alles wat ons in dié lewe ontvang, kom direk van ons hemelse Vader (Jak. 1:17), en Hy gee dit graag aan ons omdat Hy ons liefhet.

Ek wil graag meer bewus wees van God se seëninge in my lewe, daarom beywer ek my om die Bron van al die vreugdes wat ek elke dag ervaar, te erken – veral die gawes wat ek soms so as vanselfsprekend aanvaar. Op hierdie dag sluit dit in: ’n koel oggend om te gaan draf, die vooruitsig van ’n kuier saam met vriende, ’n volgepakte spens sodat ek saam met my dogters Franse roosterbrood kan maak, die mooi wêreld buite my venster, die aroma van vars koffie.

Wat is die “baie” wat God reeds aan jou gegee het? Dis juis wanneer ons ons oë oopmaak en die seëninge raaksien dat ons dankbare harte ontwikkel.