Toe ek op ’n keer diep bekommerd was oor die welsyn van ’n persoon na aan my, het ek bemoediging geput uit ’n deel van die Ou-Testamentiese verhaal van Samuel, die wyse leier van die Israeliete. Terwyl ek gelees het hoe Samuel vir God se volk ingetree het, het ek my voorgeneem om ook te bid vir die een vir wie ek lief was.

Die Filistyne, wat voorheen die Israeliete verslaan het toe laasgenoemde nie op God vertrou het nie, het weereens die Israeliete bedreig (vgl. 1 Sam. 4). Nadat hulle hul sondes bely het, het hulle gehoor die Filistyne staan gereed om aan te val. Dié keer het die Israeliete Samuel gevra om aan te hou om vir hulle te bid (7:8), en die Here het geantwoord deur hul vyand te verwar (vs. 10). Al was die Filistyne magtiger as die Israeliete, was die Here almagtig.

Wanneer ons swaarkry weens die uitdagings waarmee ons geliefdes worstel en ons bevrees is dat die situasie nie gaan verander nie, kan ons versoek word om te glo dat die Here nie sal optree nie. Ons behoort egter nooit die krag van gebed te onderskat nie, aangesien ons liefdevolle God ons hoor smeek. Ons weet nie hoe Hy op grond van ons smekinge gaan optree nie, maar ons weet dat Hy, ons Vader, daarna verlang dat ons Sy liefde omhels en aan Sy getrouheid vashou.

Is daar iemand vir wie jy vandag kan bid?