Tydens die 1950’s het ek nooit rassisme of die daaglikse apartheidspraktyke bevraagteken nie. Mense van verskillende velskakerings is in alle openbare sektore van die samelewing van mekaar geskei.

Toe ek in 1968 weermag toe is, het my houding verander. In ons kompanie, met jongmanne uit baie en verskillende kulturele groepe, het ons gou geleer om mekaar te verstaan, te aanvaar, saam te werk en ons sending te voltooi.

Paulus was deeglik bewus van die diversiteit van die lidmate van die eerste-eeuse kerk in Kolosse. Hy herinner hulle: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, beskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal” (3:11). Waar bolangse asook dieper verskille verdeeldheid kon veroorsaak, het hy hulle aangemoedig om “meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam” (vs. 12) te wees. “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (vs. 14).

Dit is ’n voortgaande proses om hierdie beginsels waartoe Jesus ons oproep, toe te pas. As gelowiges is ons liefde vir Hom die grootste gemene deler; daarom strewe ons as lede van Christus se liggaam na begrip, vrede en eenheid.

Te midde van ons wonderlike diversiteit, strewe ons na ’n selfs groter eenheid in Christus.