“Jesus min my, salig lot. Weet dit uit die Woord van God.” Só klink die woorde van een van die Christelike musiek se langs bestaande liedjies, veral vir kinders. Dié liriek wat deur Anna B. Warner in die 1800’s geskryf is, bevestig ons verhouding met Hom – dat ons geliefd is.

Iemand het vir my vrou ’n bordjie vir ons huis gegee waarop hiérdie woorde op ’n vars manier na vore kom deurdat die eenvoudige gedagte omgeswaai is. Dit lui: “Jesus ken my, dít het ek lief!” Dié woorde bied ’n ander perspektief op ons verhouding met Hom – dat Hy ons ken.

In Antieke Israel is die ware skaapwagter van die gehuurde oppasser onderskei in die opsig dat eersgenoemde die skape geken en liefgehad het. Die skaapwagter het soveel tyd saam met die skape deurgebring dat hy ’n blywende deernis vir en ’n diepgaande kennis van sy lammers ontwikkel het. Geen wonder nie dat Jesus vir ons sê: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My … My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh. 10:14, 17).

Hy ken ons en het ons lief! Ons kan Jesus vertrou ten opsigte van Sy doel met ons, asook rus in die belofte van Sy sorg, want Sy Vader “weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (Matt. 6:8). Jy kan vandag in alle opsigte ontspan. Die Herder van jou hart ken en bemin jou!