Dit was ’n baie lang dag. My “ander” werk het egter begin toe ek tuiskom, naamlik om ’n goeie pa te wees. Die verwelkoming van my vrou en kinders het gou omgeswaai na: “Pa, wat eet ons?” “Pa, kan ek water kry?” “Pa, kan ons voetbal speel?”

Ek wou eerder net sit. Al het ’n deel van my gevoel ek wil graag ’n goeie pa wees, het ek nie lus gevoel om na my gesin se behoeftes om te sien nie. Net toe sien ek die bedankingskaartjie wat my vrou van iemand in die kerk ontvang het. Die prentjie daarop was van ’n bak met water, ’n handdoek en vuil sandale. Onderaan was die woorde van Lukas 22:27 gedruk: “ … Ek is in julle kring soos die een wat dien.”

Daardie verklaring van Jesus se sending: dat Hy gekom het om te soek en te red (Luk. 19:10), was presies wat ek nodig gehad het. As Jesus bereid was om die vuilste van take vir Sy dissipels te verrig – soos om hulle voete, wat sonder twyfel baie vuil was, te was (Joh. 13:1-17) – kon ek maar vir my seun water gee sonder om daaroor te mor. Ek het daar en dan besef dat my gesin se versoeke om hulle te dien nie slegs ’n verpligting was nie, maar ’n geleentheid om Jesus se dienaarhart en Sy liefde aan hulle te demonstreer. Wanneer mense ons hulp vra, kry ons die kans om meer te word soos die Een wat Sy volgelinge gedien het deur Sy lewe vir ons af te lê.