“Wil jy sien wat is binne-in?” het my vriendin gevra nadat ek haar gekomplimenteer het met die outydse lappop in haar dogtertjie se arms. Natuurlik wou ek graag sien! Sy het die pop gesig ondertoe neergesit en die ritssluiter op die rugkant oopgetrek. Vanuit die laplyfie het Emily versigtig ’n skat uitgehaal: die lappop wat sý dwarsdeur haar kinderjare – meer as twee dekades gelede – in haar arms rondgedra en liefgehad het. Sonder die binneste kern wat sterkte en struktuur verleen het, was die “buitenste” pop slegs ’n dop.

Paulus beskryf die waarheid aangaande Jesus se lewe, sterwe en opstanding as ’n skat wat in die brose menslikheid van God se kinders gehuisves word. Dié skat bemagtig ons om met vertroue in Hom in die moeilikste van omstandighede sterk te staan en steeds diensbaar te wees. Juis dan skyn Sy lig – Sy lewe – helder deur die “krake” van ons menslikheid. Paulus moedig ons aan om nie “moedeloos” (2 Kor. 4:16) te raak nie, omdat God ons die krag gee om Sy werk te doen.

Net soos die “binneste” pop, verleen die evangelie-waarheid ín ons doelgerigtheid sowel as vasberadenheid aan ons lewe. Wanneer God se krag deur ons skyn, nooi dit ander om te vra: “Wat is binne-in?” Dan kan ons ons harte oopmaak en die lewegewende belofte van redding in Christus blootlê.