Sommige oggende wanneer ek aanlyn gaan, vertoon Facebook my “herinneringe” – dit is dié dinge wat ek jare gelede op daardie dag geplaas het. Die herinneringe soos die foto’s van my broer se troue of ’n video waar my dogter met my ouma speel, laat my gewoonlik glimlag. Soms het hulle ’n dieper emosionele effek. Wanneer ek ’n nota sien van ’n besoek aan my swaer toe hy chemoterapie ondergaan het of die foto van die metaalkramme oor my ma se skedel ná haar breinoperasie drie jaar gelede, word ek herinner aan God se getrouheid in moeilike tye. Hiérdie Facebook-plasings roep my op tot gebed en dankbaarheid.

Almal van ons is geneig om te vergeet wat God vir ons gedoen het. Ons het iets nodig om ons daaraan te herinner. Toe Josua God se volk na hul nuwe tuiste gelei het, moes hulle die Jordaan oorsteek (Jos. 3:15-16). God het die water afgekeer en die volk kon oor die droë bedding deurgaan (vs. 17). Om hierdie wonderwerk te herdenk, het hulle 12 klippe uit die middel van die rivier geneem en dit aan die ander kant opgestapel (4:3, 6-7). Wanneer ander sou vra wat die klippe beteken, moes die volk van God vertel wat Hy daardie dag gedoen het.

Sigbare herinneringe aan God se getrouheid in die verlede kan ons aanmaan om Hom met die hede, asook die toekoms, te vertrou.