Die rubriekskrywer van die Boston Globe, Jeff Jacoby, skryf van die “bonatuurlike vermoë van kenners om dinge hopeloos en katastrofaal verkeerd op te som.” Die groot uitvinder Thomas Edison het verklaar dat klankrolprente nooit die klankloses sou vervang nie. In 1928 het Henry Ford verklaar: “Die mensdom raak te intelligent om ooit weer ’n volgende oorlog te voer.” Talle ander “kenners” het hulle al so misgis. Genialiteit het duidelik perke!

Daar is slegs Een wat totaal betroubaar is, en Hy spreek Hom streng uit teen die sogenaamde kenners. In Jesus se tyd het die godsdienstige leiers verklaar dat húlle oor die waarheid beskik. Dié geleerdes en teoloë het gedink húlle weet hoe die beloofde Messias sou lyk en optree wanneer Hy kom.

Jesus het hulle vermaan: “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry.” Hy wys hulle toe dat hulle die hart van die saak miskyk: “ … dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (Joh. 5:39–40).

Soos die jaar vorder, sal ons van skrikaanjaende tot ongehoord optimistiese voorspellings hoor. Baie daarvan sal met groot gesag verkondig word. Moenie skrik nie. Ons vertroue is gesetel in die Een wat die hart van die Skrif ís. Sy greep op ons en ons toekoms is ferm.