’n Groot lekkerte van ’n reis na Europa is om die pragtige katedrale te besoek. Hulle is asemrowend mooi waar hulle hemelwaarts uitstyg. Die argitektuur, kuns en simboliek bied ’n boeiende ervaring van verwondering en prag.

Terwyl ek nagedink het oor die feit dat hierdie strukture gebou is om God se heerlikheid en Sy allesoortreffende glans te weerspieël, het ek gewonder hoe ons in ons harte en gedagtes ’n soortgelyke sensasie van God se majesteit kan vasvang om weer aan Sy grootheid herinner te word.

Ons kan, indien ons verder kyk as die mens se uitmuntende, statige strukture en nadink oor die grootsheid van alles wat God geskep het. ’n Enkele blik op die sterrehemel herinner ons aan God se krag toe Hy die heelal tot stand geroep het.’n Pasgebore baba in ons arms ontbrand ons dank aan God vir die wonder van léwe. Of kyk na die sneeubedekte berge van Alaska, of na die majestueuse Atlantiese Oseaan wat wemel van miljoene Godgeskape kreatuurtjies. Dink ook aan die krag wat daardie ekostelsel laat funksioneer.

Dis nie verkeerd dat die mens na die hemel uitreik met strukture wat veronderstel is om ons na God te wys nie. Ons ware bewondering behoort egter aan God wanneer ons vir Hom sê: “Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles … ” (1 Kron. 29:11).