My pa se stowwerige cowboystewels staan in my studeerkamer. Hulle herinner my daagliks aan die persoon wat hy was.

Hy het onder meer hoëspoedperde geteel en afgerig. Dié perde is atlete wat teen die spoed van kwiksilwer beweeg. Ek het dit geniet om hom dop te hou en het my daaraan verwonder dat hy so lank op die perde se rûe kon bly.

Gedurende my grootwordjare wou ek net soos hy wees. Maar, nou reeds in my tagtigs, kan ek steeds nie sy stewels vol staan nie!

My vader is in die hemel, tog het ek ’n ander Vader Wie se voorbeeld ek kan navolg. Ek wil net soos Hy wees – vol van Sy goedheid, geurig met Sy liefde. Ek skiet nog ver te kort, en dis ook nie in hierdie lewe moontlik nie.

Die apostel Petrus het egter gesê: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle … self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak” (1 Pet. 5:10). Hy beskik oor die wysheid en die krag om dit te doen (vs. 11).

Ons gebrek aan die beeld van ons hemelse Vader sal nie vir altyd duur nie. Hy het ons geroep om deel te hê aan die skoonheid van Sy karakter. Tans is ons maar swak voorbeelde daarvan, maar in die hemel sal ons sonde en hartseer nie meer bestaan nie en sal ons Hom voller weerspieël. Dít is die “ware genade van God” (vs. 12).