“Van perdekarre tot ’n man wat op die maan loop,” het ’n oupa opgemerk. “Ek het nooit kon dink die lewe is so kort nie.”

Die lewe is kort, en baie van ons neem Jesus aan omdat ons vir ewig wil lewe. Dis nie verkeerd nie, tog begryp ons nie wat die ewige lewe behels nie. Ons begeer dikwels die verkeerde dinge. Ons hoop iets beters lê om die draai. As ek maar uit die skool was. As ek maar daardie werk gehad het. As ek maar … Wanneer ons dan op ’n dag wonder waarheen die tyd gevlieg het, hoor ons die eggo van ons oupa se stem.

Die waarheid is dat ons nou reeds die ewige lewe het. Die apostel Paulus skryf: “Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood … dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees” (Rom. 8:2, 5). Wanneer ons Christus aanneem, verander ons begeertes. Dan ontvang ons wat ons harte begeer. “… die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede” (v. 6).

Dis ’n leuen dat ons elders moet wees, iets anders doen, saam met iemand anders voordat ons regtig begin lewe. Wanneer ons ons lewe in Christus vind, verruil ons die spyt oor die kortstondigheid van die lewe vir die volle genot van ons lewe saam met Hom – nou, en vir ewig!