’n Vriendin het my vertel dat sy jare lank na vrede en tevredenheid gesmag het. Sy en haar man het ’n suksesvolle sakeonderneming op die been gebring en bedryf, dus kon hulle ’n groot huis, mooi klere en duur juweliersware koop. Tog kon hierdie besittings nie haar innige verlange na vrede bevredig nie, ook nie haar vriendskappe met invloedryke mense nie. Op ’n dag, toe sy besonder bedruk en desperaat was, het ’n vriend haar die goeie nuus van Jesus vertel. Sy het daar en dan haar Prins van Vrede ontmoet en haar begrip van ware vrede en tevredenheid is onherroeplik verander.

Jesus het Sy vriende van hierdie vrede vertel nadat hulle die laaste keer saamgeëet het (Joh. 14). Hy was besig om hulle voor te berei vir die gebeure wat spoedig sou volg: Sy dood, opstanding, en die koms van die Heilige Gees. Met Sy beskrywing van vrede wou Jesus hulle leer hoe om selfs te midde van swaarkry welsyn te ervaar.

Later, toe die opgestane Jesus na Sy dood aan die vreesbevange dissipels verskyn, het Hy hulle gegroet en gesê: “Vrede vir julle!” (Joh. 20:19). Sedertdien kon Hy hulle, en vir ons, ’n nuwe begrip gee van wat dit beteken om te rus in wat Hy vir ons gedoen en verwerf het. Wanneer ons dít doen, raak ons bewus van ’n vertroue wat veel dieper lê as ons voortdurend wisselende gevoelens