’n Tydjie gelede het ek ’n besondere mylpaal bereik. Dit was 20 jaar sedert ek begin het om ’n geestelike joernaal saam te stel. Toe ek my eerste inskrywings herlees het, was ek verbaas dat ek dit vir soveel jare volgehou het. Maar nou sou niks my daartoe bring om dit te staak nie. Hier volg ’n paar voordele wat ek ontvang het deur ’n joernaal te hou: Vanuit die ondervindinge wat ek opgedoen het, sien ek dat vooruitgang sowel as mislukking deel is van die geestelike reis. Ek word herinner aan God se genade en hoe Hy my gehelp het om probleme op te los. Ek kan iets uit my destydse worsteling leer, iets wat my vandag tot hulp kan wees. En belangrikste van alles is dat deur ’n joernaal te hou, kan ek sien hoe getrou die Here in my lewe werksaam was. Baie van die psalms is byna soos ’n geestelike reis. Hulle vertel hoe God in moeilike situasies gehelp het. In Psalm 40 skryf Dawid: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop” (vs.2,3). Later moes Dawid net die psalm lees om aan God se getrouheid herinner te word. Om ’n joernaal te hou mag vir jou ook belangrik wees. Dit kan jou help om te sien wat God jou wil leer, en jou herinner aan sy getrouheid.