Vir die afgelope paar jaar was my dogter, Rosie, in beheer van die dramaproduksies in die plaaslike hoërskool. Skoliere het gekom vir oudisies en ’n paar word dan vir die hoofrolle gekies. Maar daar is nog baie ander minderbelangrike rolle wat vertolk moet word – rolle wat noodsaaklik is vir die produksie. Dan is daar ander jongmense wat ook deel van die opvoering wil wees, en ’n bydrae wil lewer, alhoewel hulle nie ’n rol vertolk nie. Hulle moet die dekor hanteer, gordyne oop en toe maak, die ligte kontroleer en behulpsaam wees met die grimering en kostuums. Ouers uit die gemeenskap verskaf pizzas en koekies vir die repetisies, skenk goedere wat benodig word, help met die maak van kostuums en advertensiebiljette en deel programme by die deure uit. Die sukses van so ’n opvoering is die hoogtepunt van vier tot vyf maande se intense inspanning en samewerking waarby ’n groot klomp toegewyde vrywilligers betrokke is. Op soortgelyke wyse funksioneer die liggaam van Christus. Elke indiwidu moet sy of haar rol vertolk. Elkeen het spesifieke gawes en talente en moet dit gebruik en met ander saamwerk en “elkeen van hulle … [moet] sy funksie [vervul]” (Efes. 4:16). Al die verskillende indiwidue moet saamwerk en vorm so een liggaam (Rom. 12:5). Ons het mekaar nodig. Watter rol vertolk jy in jou gemeente? –