Terwyl my kinders besig was om van afval ontslae te raak in ’n vullishouer naby ’n verkoopsentrum, is my oudste seun byna omgeloop deur ’n man wat duidelik baie haastig was. My jongste seun het laggend opgemerk: “Miskien het hy iets gesteel.” Ek dink toe dat ek hierdie voorval as ’n voorbeeld kan gebruik om hulle iets te leer, en sê: “Dis wat die Bybel oordeel noem.” My seun glimlag toe en vra: “Waarom is Pa altyd besig om my vanuit die Bybel tereg te wys.” Ek kon nie help om te lag nie, maar antwoord toe: “Ek kan nooit ’n vakansie neem waar dit julle aangaan nie. Ek moet julle altyd dissiplineer.” Paulus het aan die ouderlinge in Efese gesê dat hulle nooit mag nalaat om die volk van God te dissiplineer nie (Hand. 20). Hy was oortuig dat daar valse leraars in omgewing was wat die kerk sou probeer vernietig (Hand. 20:29) en daarom het hy die ouderlinge vermaan dat hulle die gemeente moes beskerm. Om vir die Here se volk te sorg, beteken om hulle geestelik te voed, met deernis te lei en hulle streng te waarsku wanneer dinge verkeerd loop. Die leiers in die kerk word geïnspireer en gemotiveer deur die onberekenbare prys wat Jesus aan die kruis betaal het (vs. 28). Kerkleiers het ’n belangrike opdrag van God om oor ons siele te waak, want eendag sal hulle aan die Here rekenskap moet gee. Laat ons hulle blymaak deur op hulle getroue leierskap met onderdanigheid te reageer. (Hebr. 13:17).