Toe ek ongeveer 5 jaar oud was, het my pa besluit dat ek ’n perd van my eie nodig het, wat ek moes versorg. Hy het toe ’n ou vosperd aangekoop en haar vir my gebring. Ek het haar Dixie genoem. Dixie was natuurlik ’n formidabele dier vir my wat nog so klein was. Daar was nie ’n saal wat klein genoeg was nie en geen stibeuels wat kort genoeg was dat my voete daar kon kom nie. Gevolglik het ek meeste van die tyd sonder ’n saal gery. Dixie was nogal breed van lyf en daarom het my bene na weerskante uitgesteek en dit was moeilik om bo te bly. Maar wanneer ek afgeval het, het Dixie rustig bly staan en gewag totdat ek weer op haar rug was. Een van Dixie se belangrikste eienskappe was haar ongelooflike geduld. Ek was baie minder geduldig met arme Dixie. Tog het sy my kinderagtige humeur met geduld verdra en nooit teruggekap nie. Ek het al gewens dat ek meer soos Dixie kon wees, en die geduld kon hê wat baie probleme kan oorkom. Ek moet myself afvra: “Hoe reageer ek wanneer mense en dinge my ontstel? Met nederigheid, sagmoedigheid en geduld (Kol. 3:12), of is ek ongeduldig en geïrritreerd wanneer dinge skeefloop?” Om oortredings oor te sien en 70 maal 7 keer te vergewe, menslike swakhede en mislukking te verdra, deernis te toon teenoor diegene wat ons ontstel en volkome beheer oor ons siel te hê – dis die werk van God alleen.