In sy boek The Weight of Glory vertel C. S. Lewis die verhaal van ’n vrou wat geboorte aan ’n seun geskenk het terwyl sy in ’n onderaardse sel as gevangene aangehou is. Aangesien die seun nooit die buitewêreld gesien het nie, het sy ma probeer om dit vir hom te beskrywe deur allerhande potloodsketse te maak. Later, toe hulle uit die tronk ontslaan is, is die eenvoudige sketse deur die werklikheid van ons pragtige wêreld vervang. Op dieselfde wyse sal die geïnspireerde pensketse wat die Bybel ons van die hemel gee, eendag deur die wonderlike werklikheid vervang word. Paulus het besef dat ons siening van die hemel beperk is totdat ons eendag in Jesus se teenwoordigheid sal wees. “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos God my ten volle ken” (1 Kor. 13:12). Boonop het Paulus se vertroue op die toekomstige heerlikheid hom die moed gegee om staande te bly te midde van beproewinge: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom. 8:18). Dit wat ons vandag van die hemel weet, is net ’n dowwe skets. Maar ons kan volkome op Jesus vertrou, Hy wat vir ons ’n plek gaan voorberei het (Joh. 14:1-3). Die beste kom nog!