Wanneer ’n skip van die Amerikaanse vloot by die militêre basis in Pearl Harbour aankom, of daarvandaan vertrek, sal die bemanning in volle mondering op die dek op aandag staan, om die soldate, matrose en burgerlikes wat tydens die Japannese aanval op 7 Desember 1941 gesterf het, te gedenk. Dis ’n aangrypende toneel en baie deelnemers beskryf dit as een van die mees gedenkwaardige oomblikke van hulle militêre loopbaan. Selfs vir die toeskouers wat aan wal staan, is dit ’n ongelooflike emosionele ondervinding wat ’n noue band tussen die hede en die verlede tot stand bring. Dit verleen ’n sekere waardigheid aan die werk van die matroos en herinner aan die opofferinge van hulle wat daardie dag daar gesterf het. Toe Jesus die Heilige Nagmaal ingestel het (Matt. 26:26-29) was dit sekerlik met die doel om ’n soortgelyke emosionele band daar te stel. Ons deelname aan die Nagmaal vereer Jesus, en die offer wat Hy gebring het verbind ons op ’n baie spesiale manier aan Hom. Dit is iets besonders en herinner ons aan dit wat Hy vir ons gedoen het. Net soos die Vloot presies voorskryf hoe sodanige eerbetonings om gevallenes te gedenk, gedoen moet word, so ook leer die Skrif ons presies hoe ons Jesus se nagedagtenis moet gedenk (1 Kor. 11:26-28). Hierdie eerbetoning en danksegging vereer Hom en roep ons ook op om diensbaar te wees.