My pa het onlangs negentig geword en sy fisiese vermoëns begin nou regtig afneem. Hy kan nog met sy loper loop, maar het iemand nodig om sy etes voor te berei en hom met ander take te help. My ouer broer, Steve en sy vrou Judy, woon naby hom en daarom het hulle besluit om Pa by hulle in te neem sodat hulle vir hom kan sorg. Omdat ons graag wou help, het ek en my vrou ’n lang vlug onderneem om ’n bietjie te gaan help, terwyl hulle vir ’n rukkie weggegaan het. Ons het die tydjie by my pa geniet en dit was vir ons lekker om te weet dat ons Steve en Judy se las ’n bietjie ligter kon maak – al was dit net vir ’n kort tydjie. Die Bybel sê uitdruklik: “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2). Een Nuwe Testamentiese verklarende woordeboek sê dat om iemand te eer is om so iemand “met respek, vriendelikheid, nederigheid en eerbied te hanteer … dit wat sy posisie in die lewe vereis.” Vir jong kinders beteken dit om jou ouers te gehoorsaam. Vir tieners beteken dit om eerbied en respek aan hulle te betoon selfs al dink jy dat jy beter as hulle weet. Jong volwassenes moet tyd vir hulle ouers inruim en vir diegene wat middeljarig is beteken dit om te sorg dat hul ouers behoorlik versorg word, veral as hulle gesondheid afneem. Hoe kan jy hierdie week eerbied aan jou ouers betoon?