Daar’s ’n ou Sondagskoolliedjie wat so af en toe in my gedagtes opkom. Die woorde getuig van die vrede wat Jesus so vrylik gee. “Ek het die vrede wat alle verstand te bowe gaan diep in my hart – en dis daar om te bly!” Daar ontbreek egter iets in hierdie goedbedoelde lied. Die vrede van God is waarlik ’n gawe van die Here wat ons kan geniet as ons in die teenwoordigheid van God bly (Johannes 14:27; 16:33). Maar ons Here het beslis nie bedoel dat ons die vrede in ons hart moet vashou nie, maar dat ons dit met diegene om ons moet deel. As Christene behoort dit al ons verhoudinge te kenmerk en ook in al ons kerke en gemeentes sigbaar te wees. In die Bergpredikasie sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers” (Matt. 5:9) en dit wys daarop dat ons vrede in al ons verhoudinge moet najaag. Aangesien ons almal meer geneig is om probleme te veroorsaak in plaas van om vredemakers te wees, is dit voorwaar belangrike raad. Dus, hoe lyk dit om vredemakers te wees? Hulle draai die ander wang (vs. 39), stap die ekstra kilometer (vs. 41), is lief vir hulle vyande en bid vir diegene wat hulle vervolg (vs. 44). Waarom moet ons dit doen? Omdat God ’n vredemaker is en wanneer ons vrede maak, word ons “kinders van God” (vs. 9) genoem. Om vrede te maak is ’n familie-eienskap