’n Skrywer vir die Washington Post het ’n eksperiment gedoen om die mens se waarneming te toets. Hy het een dag in Januarie ’n beroemde violis gevra om anoniem by ’n spoorwegstasie in die hoofstad op te tree. Duisende mense het daar verbygestap terwyl hy gespeel het en ’n paar het gaan staan om te luister. Na 45 minute was daar ongeveer 32 dollar in sy vioolhouer. Twee dae tevore het dié man – Josua Bell – dieselfde $3.5 miljoen Stradivarius viool gebruik om by ’n konsert op te tree waar alle sitplekke geneem was en die kaartjies $100 elk gekos het. Die gedagte dat ’n persoon wat in baie opsigte gepresteer het, nie herken word nie, is niks nuuts nie. Dit het ook met Jesus gebeur. “Hy wás in die wêreld … en tog het die wêreld Hom nie erken nie” (Johannes 1:10). Waarom het die mense wat die Messias verwag het, Jesus so ’n koue ontvangs gegee? Een rede was dat hulle verras was. Net soos mense nie vandag verwag dat beroemde musikante op straathoeke en by stasies sal optree nie, het die mense in Jesus se tyd nie verwag dat die Messias in ’n stal gebore sou word nie. Hulle het ’n politieke Messias verwag – nie die hoof van ’n geestelike koninkryk nie. Die mense van die eerste eeu was verblind en het nie verstaan waarom Jesus na die wêreld gekom het nie. Hy het gekom om mense van hulle sondes te red (Joh. 1:29). Ontvang vandag God se wonderlike geskenk wat Hy gratis aan jou bied.