’n Televisieprogram waarna ek graag kyk, het ’n gedeelte wat Ambush Makeover genoem word. Twee vroue word uitgekies om vir 3 ure gepamperlang te word, hare word gedoen, grimering versorg en nuwe uitrustings verskaf. Die verandering is soms dramaties. Wanneer die vroue van agter die gordyn tevoorskyn kom, hyg die toeskouers letterlik na hulle asem. Vriende en familie begin soms huil. En dan, uiteindelik, kry hierdie persoon die kans om haarself te sien. Party is so geskok dat hulle nie voor die spieël kan wegkom nie. Wanneer die vroue egter oor die verhoog stap om by hulle vriende en familie aan te sluit, word die ou mens duidelik sigbaar. Die meeste kan nie met die nuwe skoene stap nie. Alhoewel hulle mooi lyk, dui die ongemaklike gang maar te duidelik aan dat die transformasie nie volkome is nie. Dis ook waar van die lewe van Christene. God doen ’n genadewerk in ons lewe en gee ons ’n nuwe begin, maar om in die weë van God te wandel (Deut. 11:22) vereis tyd, inspanning en baie oefening. Indien ons net stilstaan en glimlag, mag dit lyk asof ons verander is, maar die manier waarop ons wandel, wys of ons werklik getransformeer is en hoe ver ons al op daardie weg gevorder het. Om verander te wees, beteken dat die ou lewe afgelê moet word en dat ons moet leer om “’n nuwe lewe te lei” (Romeine 6:4).