Thomas Moore (1779-1852) was ’n Ierse skrywer wat pragtige liedere geskryf het. Hy was ook ’n sanger en ’n digter. Deur sy besondere talent het hy vir baie mense vreugde gebring. Tog was sy persoonlike lewe baie tragies. Hy was gepla deur voortdurende erge hoofpyne, en al vyf sy kinders het tydens sy leeftyd gesterwe. Omdat hy soveel beproewinge beleef het, is die volgende woorde wat hy uitgespreek het, besonder betekenisvol: “Bring jou gewonde hart hierheen, vertel van jou persoonlike pyn, vertel hier van jou angs: die aarde het geen hartseer wat die hemel nie kan genees nie.” Hierdie aangrypende getuienis herinner ons daaraan dat om die Here in gebed te ontmoet, genesing vir ’n vermoeide siel kan bring. Paulus het ook gesien hoedat ons hemelse Vader genesing vir die gebroke hart kan gee. Hy skryf aan die gelowiges in Korinte: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee” (2 Kor. 1:3,4). Somtyds is ons egter so vasgevang in ons hartseer en lyding dat ons onsself isoleer van die Een wat ons kan vertroos. Ons moet voortdurend daaraan herinner word dat ons God se vertroosting en heling ondervind, wanneer ons bid. Wanneer ons ons toevlug tot die Here neem, vind ons vrede en die genesing van ons gebroke harte. Want waarlik “die aarde het geen hartseer wat die hemel nie kan genees nie.”