Konvensionele wysheid bevraagteken soms die feit dat baie met min gedoen kan word. Ons is geneig om te dink dat meer gedoen kan word as ons finansies tot ons beskikking het, en talentvolle persone met innoverende visies, in beheer van sake. Maar al daardie dinge is nie vir God van belang nie. Hy kan baie met min doen. Kom ons bekyk twee voorbeelde. In Rigters 3:31 lees ons van ’n redelik onbekende persoon, Samgar, wat Israel uit die hand van die Filistyne verlos het deur ses honderd Filistyne met ’n stok dood te slaan. Hy het dit alleen gedoen en ’n groot oorwinning behaal. In Eksodus, toe God Moses beveel het om die volk uit Egipte uit te lei, was hy baie bang dat die mense nie na hom sou luister en hom nie sou wou volg nie. Toe het God gevra: “Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ’n Staf [stok]” (Eksodus 4:2). Moses het toe voortgegaan en daardie staf gebruik om die volk te oortuig om hom te volg, die Nylrivier in bloed te verander, al die plae oor Egipte te bring, die Rooi See oop te maak en baie wonderwerke in die woestyn te doen. Samgar se stok en Moses se staf, indien dit aan God toegewy is, kan magtige instrumente wees. Dit help ons om te sien dat die Here die bietjie wat ons het kan gebruik, mits ons dit net aan Hom toevertrou. God soek nie noodwendig slim en bekwame mense nie, maar persone wat aan Hom toegewyd is en Hom gehoorsaam.