Klein James was maar twintig maande oud, maar hy het ewe manhaftig en vol selfvertroue voor sy familie uitgestap in die lang gange van hulle groot kerkgebou. Sy pappa het natuurlik ’n oog op hom gehou, terwyl James voortgewaggel het. Skielik het die seuntjie geskrik, gaan staan, omgedraai en hard uitgeroep: “Pappa! Pappa!” Sy pa was gou langs hom en klein James het sy handjie uitgesteek. Sy pa het dit vasgegryp en onmiddelik het die seuntjie vrede ervaar. Ons lees in 2 Konings van koning Hiskia wat ook na die Here geroep het en hulp gevra het (2 Kon. 19:15,16). Koning Sanherib van Assirië het allerhande dreigemente teen Hiskia en die volk Israel gerig en ewe uitdagend gesê: “Moenie dat jou God op wie jy vertrou jou mislei [nie] … Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom?” (vs. 10-11). Hiskia het na die Here toe gegaan en om verlossing gebid sodat “al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is” (vs. 14-19). In antwoord op Hiskia se gebede het ’n engel van die Here die vyand verslaan en Sanherib en sy manskappe het die wyk geneem (vs. 20-36). Indien jy in ’n situasie verkeer dat jy die Here se hulp nodig het, steek dan jou hand in gebed na Hom toe uit. Hy het belowe Hy sal vertroos en help (2 Kor. 1:3,4; Hebr. 4:16).