Toe dit bekend geword het dat die belangrikste voetbalwedstryd van die seisoen op Yum Kippur, die Joodse Groot Versoendag, gespeel sou word, het die studenteraad van die universiteit van Texas die skoolraad gevra om die datum te verander. Hulle het gevoel dit sou onregverdig teenoor Joodse studente wees om hulle te dwing om te kies tussen die wedywering met Oklahoma, of om hulle belangrikste heilige dag prys te gee. Maar die datum is nie verander nie. Selfs in gemeenskappe waar godsdiensvryheid gehandhaaf word, moet gelowige mense dikwels nog moeilike keuses maak. Daniël het gekies om God te gehoorsaam ongeag die gevolge. Toe sy politieke vyande ’n plan gemaak het om hom sy gesag te ontneem, (Dan. 6:1-9) het hy nie gekla of die wet probeer verander nie. “Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank” (Dan. 6:11). Daniël het nie geweet of God hom van die leeukuil sou bewaar nie, maar vir hom het dit nie saak gemaak nie. Hy het verkies om die Here te verheerlik, ongeag wat die gevolge van sy dade sou wees, ja, selfs al sou hy in die leeukuil gegooi word. Net soos Daniël is elkeen van ons ook vry om te kies of ons die Here gaan dien, of nie.