Na die verskriklike aardbewing in Haïti, was ons almal oorweldig deur die beelde van verwoesting en ellende wat die mense daar ondervind het. Van al die foto’s wat ek gesien het, was die een wat my die meeste geraak het dié een van ’n vrou wat daar gestaan en na die verskriklike verwoesting gekyk het, terwyl trane oor haar wange rol. Sy kon nie die ongelooflike ellende met haar verstand verwerk nie. Haar hart was gebreek en haar trane het gevloei. Sodanige optrede is verstaanbaar. Soms is trane die enigste wyse waarop ons op lyding kan reageer. Toe ek die foto bekyk het, het ek aan Jesus gedink. Hy het ons verstaan en geweet dat trane soms noodsaaklik is. Hy het ook gehuil, maar oor ’n ander tipe verwoesting, die ellende wat veroorsaak word deur sonde. Toe Hy Jerusalem genader het, die stad vol korrupsie en sonde, het Hy begin huil. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil” (Lukas 19:41). Jesus het gehuil omdat Hy meegevoel met die mense gehad het. Wanneer ons die onmenslikheid, lyding en sonde van die huidige wêreld teëkom, hoe reageer ons? As Jesus se hart gebreek is by die aanskoue van die toestand in die wêreld, moet ons s’n nie ook breek nie? Moet ons dan nie alles in ons vermoë doen om die situasie te verander en ander te help, op fisiese sowel as geestelike vlak?