Een van die hoogtepunte van my taak as kollege president, is om die studente wat hulle studies voltooi het, by te staan. Een jaar, toe ek die gradeplegtigheid bygewoon het, was ek opgewonde by die gedagte dat hierdie studente gereed was om die wêreld in te gaan om die veranderende krag van die koninkryk van Christus te proklameer. Onderweg daarheen het ek ’n klomp miere bemerk wat hard besig was om hulle taak te verrig. Toe dink ek: Daar is soveel belangriker dinge aan die gebeur as om miershope te maak! Dis so maklik vir ons om in die wêreld van miere vasgevang te raak – so besig met ons dagtake dat ons die breër prent miskyk en nie God se werk in die wêreld raaksien nie. Die Gees van God is besig dwarsoor Suid-Amerika, duisende in Afrika kom tot bekering, vervolgde Christene bly standvastig en in Asië en die Ooste bloei die evangelie! Dink jy ooit aan al daardie wonderlike gebeure? Hoe is dit met jou gebedslewe gesteld? En jou tjekboek? Ons betrokkenheid by die dinge van die wêreld, laat my altyd aan Paulus se woorde oor Demas dink: “Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry” (2 Timoteus 4:10). Ek wonder of Demas ooit spyt gekry het dat hy die evangelie, ter wille van die miershope van hierdie wêreld, verlaat het? Kom ons beweeg weg uit die “wêreld van miere” en raak betrokke om die evangelie van Jesus Christus uit te dra.