Een Sondag, in die gemeente waar ek leraar was, het ek drie kinders beveel om verskeie geskrifte, waarop Bybelverse geskryf was en wat ek versteek het, te soek. Ek het belowe dat wanneer hulle die geskrifte gekry het en die woorde hardop gelees het, sou ek aan elkeen ’n prys gee. Julle moes daardie kinders gesien het! Hulle het gehardloop, onder banke gekyk, stoele geskuif en selfs in beursies gekyk (natuurlik met toestemming). Hulle soeke na die geskrifte was opwindend en toe hulle dit eindelik gekry het, was die kinders verheug. Hulle het ook ’n nuwe besef van die belangrikheid van God’s Woord gekry. Ons lees in 2 Konings 22 tot 23 dat koning Josia en die mense van Juda verheug was toe hulle weer die belangrikheid van die Woord van die Here ontdek het. Terwyl hulle besig was met herstelwerk aan die tempel, het ’n priester die Wetboek gevind. Dit het skynbaar gedurende die regering van Manasse verlore geraak, of net in onbruik geraak. Toe die boekrol aan koning Josia voorgelees is, het hy aandagtig geluister en dadelik daarop gereageer (vs. 10,11). Hy het verdere inligting en kennis verlang en wou dit beter verstaan (vs. 12-20). Hy het die volk gelei om hulle opnuut aan die Here toe te wy en sy heerskappy te erken (2 Kon. 23:1-4). Baie van ons het vandag vrye toegang tot God se Woord. Laat ons elke dag die Bybel lees, sodat ons deur ons lewe kan wys hoe belangrik dit is.