Aan die begin van Jesus se optrede, het alles goed verloop en ons lees in Matteus 3 dat Hy deur Johannes die Doper gedoop is en dat die Vader openlik verklaar het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek my” (Matt. 3:17). Maar kort daarna het die situasie ’n slegte wending geneem. Wat het gebeur? Jesus word in die woestyn deur Satan versoek, maar dit was nie toevallig nie. Die Heilige Gees het Hom daarheen gelei sodat die stryd tussen die magte van hemel en hel beslis kon word. Ons kan so dankbaar wees dat Jesus se oorwinning oor die versoekings vir ons die voorbeeld stel, sodat ons kan weet hoe om op te tree wanneer ons in die wildernis deur Satan versoek word. Let daarop dat Satan Jesus aangevat het toe Hy moeg en honger was. Hy gebruik dieselfde taktiek wanneer hy ons aanval. Hy wag totdat ons moeg en weerloos is en dan kom hy met suggestiewe voorstelle om ons te mislei sodat ons maklike antwoorde op ons probleme kan vind. Wanneer dit gebeur, moet ons Jesus se voorbeeld volg. Gooi Satan met die “Boek!” Jesus het versoekings hanteer deur uit die Bybel aan te haal: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matt. 4:4; Deut. 8:3). Daar is talle tekste in die Bybel wat oor wellus, gierigheid, leuens en ander sondes handel. As ons die tekste memoriseer kan ons dit gebruik wanneer ons aangeval word. Dis ons beste hoop op sukses!