My vriend, Jeff, se dogter het hom gevra om die diens by haar huwelik waar te neem. Dit sou vir hom ’n groot vreugde wees en hy wou dit graag doen. Hulle sou na ’n eksotiese en romantiese omgewing reis, waar die seremonie sou plaasvind. Daar was egter een probleem. Hy sou drie rolle moes vertolk – die vader van die bruid, die prediker en die fotograaf wat die foto’s sou neem. Het dit al ooit vir jou gevoel asof jy net te veel sake moet hanteer? Jetro, Moses se skoonpa, het gedink dat sy skoonseun te veel laste dra (Eksodus 18). As leier van die Israeliete, die persoon wat onderlinge verskille moes ontlont en ook wetlike aspekte vir ’n groot volk moes hanteer, het hy net te veel druk ondervind. Uiteindelik het Jetro na Moses gegaan en gesê: “Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie” (Eksodus 18:18). Hy het Moses toe aangeraai om die makliker sake na ander leiers te verwys en net die heel ernstigste sake self te hanteer (vs. 22). Óf jy nou ’n moeder is wat jou hande met jou kinders vol het, óf ’n oorwerkte besigheidsman wat worstel om by te bly, óf ’n kerklidmaat wat so betrokke in die gemeente is dat jy uitgeput voel, gee dan ag op wat Moses gedoen het. Wil jy nie biddend oorweeg of daar take is wat jy aan ander kan oorlaat nie of miskien net kan laat staan? Bid daaroor sodat jy nie jouself totaal uitput nie.