Gedurende ’n demonstrasie hoe om troppe skape met behulp van ’n skaaphond te hanteer, het die hondetemmer verduidelik dat omdat skape so maklik deur wilde diere gevang word, is hulle beste verdediging teen sulke aanvalle om in ’n trop bymekaar te bly. “’n Skaap wat alleen is, is ’n dooie skaap” het hy gesê. “Die goedopgeleide hond hou die skape bymekaar as hulle van een plek na ’n ander moet gaan.” Die Bybelse voorstelling van God as ons Herder, herinner ons daaraan hoe afhanklik ons van mekaar is en hoe nodig ons as gelowiges mekaar het. Toe die psalmdigter oor die uittog uit Egipte geskryf het, het hy gesê: “Maar sy eie volk het Hy uitgelei en hulle soos ’n kudde skape deur die woestyn laat trek. Vir hulle het Hy veilig gelei, en hulle was nie bang nie” (Psalm 78:52,53). As deel van God se kudde is ons, as kinders van die Here, veilig onder sy beskermende hand en omring deur die kosbare teenwoordigheid van ander Christene. Ons is deel van ’n groep gelowiges en daarom is daar veiligheid, maar ons het ook die verantwoordelikheid om opreg te lewe en mekaar te ondersteun. Alhoewel ons nooit ons persoonlike verantwoordelikheid kan ontduik nie, moet ons altyd die konsep van ons en nie net ek nie, in ons daaglikse lewe eerbiedig. Met Christus as ons Herder en medegelowiges wat saam met ons die stryd stry, vind ons veiligheid in die trop.