Te lank. Te kort. Te groot. Te klein. Te nou. Te wyd. Hierdie woorde beskrywe die meeste kledingstukke wat ek aanpas. Om iets te kry wat net reg en na my smaak is, lyk vir my geheel en al onmoontlik. Om ’n kerk te vind wat net reg is en “presies pas” is skynbaar net so moeilik. Elke kerk of gemeente het iets wat net nie reg is nie. Hulle waardeer nie ons gawes en talente nie. Ons sin vir humor word nie verstaan nie. Sekere mense of programme of houdings maak ons onrustig. Ons besef dat ons net nie daar inpas nie. Ons worstel om ons plekkie daar te vind. En tog weet ons dat die Here wil hê ons moet saamstaan en saamwerk. Paulus het gesê ons word in Jesus “saam opgebou … as ’n geestelike huis waarin God woon” (Efes. 2:22). Vandag is die gelowiges in die kerk, net soos die tabernakel in Moses se dae (Eks. 26) en die tempel in die tyd van Salomo, (1 Kon. 6:1-14) die Here se woonplek hier op aarde. God wil hê ons moet by mekaar aanpas, sodat daar geen verdeeldheid is nie. Dit beteken dat ons, as die boustene “eensgesind [moet] wees … in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging” (1 Kor. 1:10). Geen kerk of gemeente sal ooit net presies reg “pas” nie, maar ons kan almal daaraan werk om mekaar beter te verstaan en beter saam te werk. Dis immers wat ons Here van ons vra.